Friday 2 August 2013

My klas by Elaine Barnard - HUISTOE

Ek het die klas van Elaine Barnard baie geniet!  In murg en been is ek 'n tradisionele kwilter, maar geniet dit so af en toe om sommer net ietsie anders te doen.
Tydens die klas het Elaine ons gewys om met Bird's Nest en ander garings sommer so maklik te skep op 'n wateroplosbare materiaal.
By die huis gekom met my skepping, was daar darem net te veel gate in na my sin en ek het daar en dan begin om lappies en wolle by te voeg.
Ek het 'n foto geneem van die pad wat ek van Colesberg af altyd terugry na 'n klas.
Elaine het gese ons kan fotos saam bring na die klas en dit was presies wat ek gedoen het.


Ek het oor alles gestik soos sy ons in die klas gewys het.

En die hele prentjie het begin verander na iets wat ek kon herken!
Toe het ek vir die blok kante gemaak om dit diepte te gee.
En dit in 'n regte kwilt verander.  Oom Manie het vir my 'n hek gemaak en my eie persoonlike man, Stoney, het vir my 'n kleiner windpomp gemaak.  Elaine het vir elkeen van ons ook 'n windpomp van draad in ons kit gegee, maar dit was 'n bietjie te groot vir my skepping.
En hier is dit:  HUISTOE

Die kwiltfees is verby!

Ons kwilt nou 'n bietjie aan ons eie kwilte en geniet net al die komplimente!